Allergieë By Diere – Klop Die Gejeuk, Gekrap En Gekriewel

white and brown dog scratching behind his ear with his paw

Ja nee kyk – dis inderdaad daardie tyd van die jaar, waar droë jeukerige velle en allergieë ons diere se voorland is.

Met die verwisseling van seisoene verskyn die gejeuk, gekrap en die gekriewel al hoe meer; en dan krap ons diertjies dat die biesies bewe!

Dus het ons ePETstore veearts ‘n plan beraam om diè bul by die horings te pak!

WAAROM DIE GEJEUK EN GEKRAP DAN?

Jou diertjie se immuunstelsel oorreageer op ‘n omgewings- of kosirritasie wat plaasvind. Natuurlik vererger sekere allergieë by diere gedurende sekere seisoene ook. 

Hier is vier stappe om jou dier se ongemak, die gejeuk en die gekrap te help verminder:
 

1. VOORKOMING OF BEHANDELING VAN VLOOIBYTE

Die algemeenste irritasie vir diere is vlooispeeksel. Dit neem slegs een vlooibyt om ‘n massiewe reaksie te veroorsaak, VERAL in honde wat sensitief vir hierdie parasiete is.

Dus moet AL die diertjies in die huis bosluis- en vlooibehandeling kry. Punt.

Ons ePETstore veearts stel ‘n streng maandelikse behandeling vir KATTE en HONDE voor.

LET WEL 
48 uur na ‘n spot-on behandeling mag hulle nie swem, nat word of gebad word nie.

Is die bogenoemde maatreëls voldoende? NEE, ongelukkig nie.

Vlooie is baie lief daarvoor om na ‘n vlooibehandeling van jou dier se lyf af te spring, en dan in die huis weg te kruip. Ai.

Dus MOET jy ook die omgewing waarin jou troeteldiere beweeg terselfdertyd behandel. Probeer ULTRUM SPRAY – dit is regtig ‘n fantastiese produk.

Spuit sommer jou beddegoed, hulle beddegoed, die matte, onder die bank, en in hulle bedjies. M.a.w. spuit op enige plek waar hulle baie tyd spandeer.

2. PROBEER OM UIT TE VIND WAT DIE IRRITASIES EN GEJEUK VEROORSAAK

Dink aan die kere wanneer jou diertjie se vel geïrriteerd raak. Is dit in die somer, of miskien wanneer hulle in die park was?

Gesels met jou veearts oor wat die oorsaak van die gejeuk en gekrap kan wees. Verwyder dan daardie oorsaak uit jou troeteldier se lewe (indien moontlik).

As jou troeteldier se vel geïrriteerd en jeukerig raak na badtyd, belê in ‘n PH-NEUTRALE sjampoe. Bad hulle dan slegs wanneer dit regtig nodig is nè.

‘n Ander alternatief om die jeukmonster hok te slaan, is natuurlik om jou diere te laat toets vir allergieë.

Baie laboratoriums bied ‘n reeks toetse aan, en die resultate sal presies aantoon wat jou diertjies moet vermy. Hierdie toetse kan verskillende omgewingsirritasies opspoor soos bv. motte, muf, gras ens.

Onthou – hierdie tipe toetse is slegs om omgewings-allergieë by diere te identifiseer – en nie kosallergieë nie.

Gepraat van kos, suiwer kosallergieë is skaarser as wat jy dink. Slegs 10% van allergieë IS eintlik weens kos, en van daardie 10% is gewoonlik weens graan. Dus kyk eerste na die omgewing as jy die oorsaak soek. 

As jy sterk glo dat jou troeteldier se kos die skuldige party is,  raadpleeg jou veearts oor ‘n voedsel-eliminasie proef, of oor ‘n gehidroliseerde dieet.

3. VERSTERK DAARDIE IMMUUNSTELSELS

Diëte wat die vel ondersteun sorg natuurlik dat jou dier ‘n gesonde hoeveelheid omega vetsure inkry.

Die vetsure ondersteun hulle immuunstelsels, help om hulle velletjies te genees; en om inflammasie op ‘n sellulêre vlak te beheer. SJOE!

In mens terme: goeie kossies om te oorweeg vir honde is ROYAL CANIN SENSITIVITY CONTROL. Vir katte is ROYAL CANIN SENSITIVITY CONTROL.

Dieetaanvullings soos EFAZOL en MIRRA-COTE bevat ook ‘n magdom Omega 3 vetsure, sink en vele ander vitamiene. Die help natuurlik ook om jou troeteldier se vel gesond te hou.

Vir die gesondheid van hulle pels, is medisinale sjampoe soos ALLERMYL koningskos vir daardie hare. Asseblief, besef tog net dat hierdie sjampoe slegs gebruik word vir die behandeling van vel- en pelsprobleme. Dit word NIE gerbuik om stoffies en blaartjies af te was NIE.

En laastens daardie ore! Meeste oorinfeksies vind juis plaas weens ‘n onderliggende allergie. Om drama te vermy, kan jy jou hondjie se ore daagliks (of ten minste twee keer per week) was met EPIOTIC.

Hierdie produk verander die pH binne die oortjie. Dit verhoed dan dus dat bakterieë groei en gisinfeksies plaasvind.

4. VOORKOM DIE OPVLAM VAN IRRITASIES

Indien jou troeteldier se vel altyd geïrriteerd raak gedurende ‘n sekere tyd van die jaar of by die kus; praat met jou veearts en wees voorbereid.

As jy bewus is van hoe allergiese reaksies op hulle vel lyk (rooi, geïrriteerd, krapperig), gaan dadelik na jou veearts asseblief.

‘n Kort kortisoonkursus of kortisoonsproei help voorkom dat die allergie hand-uit ruk of dat ‘n infeksie plaasvind.

Allergieë veroorsaak dat die vel se natuurlike beskermingsmeganisme in gedrang kom, dus kan dit dan veroorsaak dat normale bakterieë, wat op die veloppervlakte vakansie hou, ‘n infeksie kan veroorsaak.

Moenie wag totdat hulle vel / ore begin stink, bloei of pynlik raak nie. DIT gaan net langer duur en sterker medikasie benodig om onder beheer te kry.

LAASTENS

Ons perspektief moet natuurlik met die verandering van seisoene ook verander.

Onthou – die bogenoemde stappe is slegs ‘n aanduiding hoe om jou troeteldier se ongemak te verminder nè, want elke geval is uniek.

Doen net jou bes en praat gereeld met jou veearts, dit is tog al wat jou troeteldiertjie van jou verwag.

So pak diè bul by die horings – soos ‘n ware legende.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *